Tuesday, January 31, 2012

Devil’s Advocate

Nuwejaarsjakkalsies. Partykeer wil die boggers maar net nie loop lê nie.
Ek dink nou maar aan die plaaslike boer wat nog gedag het hy ry, toe skep die trein hom onder sy Landcruiser uit. Gelukkig het hy niks ernstig oorgekom nie.
Of soos die worshond nou die dag dink dat hy kan een van Dundee se Berearotte somaar aan die kraag loop vat en sy nek af skud.
Nee, meneer. Daai rot slaan sy tande deur die worshond se lip dat die man gil van kwaadgeit. Hy skud die rot verbete van sy snoet af en gee my die vuilste kyk wat 'n worshond kan.
Hy het nie veel kans gehad om sy misnoeë uit te spreek nie, want toe pak daai moerse rot hom. Onse aarde…
Die bullie kom sluit vreesaanjaend by die geveg aan, en die eerste wat sy in haar bek kry, is ou Stoffel se keel. Wat reeds die rot daar het. Die bullie begin toutrek aan die rot se agterstewe, die rot byt aan Stoffel, Stoffel gil en knor en roggel van kwaadgeit, of vrees, en ek besluit maar om te gaan help.
Ek gryp 'n stuk brandring, en die vegtendes verpoos 'n breukdeel van 'n sekonde toe ek naby kom. Stoffel kry die rot aan sy voorkant beet, en die rot begin sy bes doen om die worshond se oor af te vreet in die tydjie wat hy nog gaan lewe.
Die bullie trek van agter, en die afloop van hierdie oneweredige geveg kan net op een manier uitspeel. Hulle skeur die rot in twee, en elkeen hardloop met sy deel van die buit in twee verskillende rigtings.
Stoffel kry die halwe rot van sy oor af geskud, en die bullie het reeds haar deel vies onder die kamferboom gaan los. Ek het maar die gemors met die hoëdrukspuit weggespoel.
Gisteroggend bars die onheil weer met 'n gedruis los soos die jakkalse deur die agtertuin storm. My suikerbekkies, wat gereeld in die sigaretbos by die kombuisvenster kom eet, raak vies aan die skel. Daar het 'n tiptol in die bos langs die suikerbekkie kom sit, en die man het bitterlik eksepsie geneem.
Die twee staan en beduie mekaar nog oor hierdie mistasting, toe swiep die lysters oor hulle. Die lyster het ook een of ander beswaar gehad. In die luiperdboom het die wewers begin protesteer oor die kabaal.
Ek staan en kyk verbaas oor hoe al die tweepotiges, vierpotiges, geveerdes en diesmeer mekaar in die hare vlieg, en wonder: is dit dalk iets in die water..? Hierdie ding dat almal mekaar wil pakgee as iemand net skeef kyk of in 'n verkeerde skaduwee trap…?? Ons ry mekaar van die strate af, ons skel dat die vensters tril as iemand net bietjie te stadig voor ons ry, en ons het geen konsiderasie vir 'n vreemdeling nie. Aap en sy squad Harley-ryende bobbies moet dalk 'n slag van Karellandmanstraat af tot teen Talanaberg beginne skoonmaak.
Vee al hierdie skoro-skoro taxis op 'n hoop, gooi die skuim wat mense se honde vergiftig daarby, rond dit af met al die moangatte en rommelstrooiers in die dorp, en steek die spulletjie aan die brand.
Aap moet net onthou om die brandblusser te gaan volmaak…

0 comments: